Wie nie waag nie, wen nie


Emigrasie is ’n gewilde onderwerp in Suid-Afrika op die oomblik, veral onder mense in my ouderdormsgroep. Wanneer jy in ’n gesprek daaroor betrokke raak, is die slotsom basies – bly jy, of ry jy. Ek en my man het in 2018 besluit dat emigrasie die beste opsie vir ons gesin is en ons het Kanada as ons nuwe tuiste gekies.


Paul Fiedler - Unsplash

Ek woon al my hele lewe lank in Suid-Afrika, in dieselfde provinsie en dieselfde stad. As kind was ek bevoorreg om heelwat binnelands te reis tydens skoolvakansies. Ons het gewoonlik gekamp, wat ’n bekostigbare opsie is vir ’n gesin van vyf. Ek was nog nooit in een van ons buurlande nie en was onlangs vir die tweede keer in die buiteland. My wêreld was tot nou toe nog eintlik maar klein.
Uiteraard is die besluit om sak en pak na ’n vreemde land te verhuis teenstrydig met my reiservaring en my oorversigtige persoonlikheid. Dit was wel die maklikste besluit tot dusver – dat ons wel wil gaan, en na watter land.
Maar dit was net die begin van ’n baie lang stryd (waarmee ons steeds besig is) met baie uitdagings. My geloof word beproef soos nooit tevore en dit is moeilik om geduldig te wees as dinge nie vinnig genoeg na jou sin verloop nie.

Baie (meer as wat ons gedink het) van ons spaargeld, ure in toue, hope dokumentasie, senutergende eksamens, 300-werksaansoeke en ’n paar teleurstellings later het ons nuwe tuiste óns gekies: Altona – ’n plattelandse dorpie in die suide van Manitoba. As jy my vroeër gevra het of ek uit keuse van die stad na die platteland sal verhuis, het ek jou waarskynlik verseker dat dit nie na my idee van pret klink nie. En tog is dít waarheen ons gesin se paadjie loop. En hoe meer ek daaroor dink, hoe meer sien ek uit na ’n stiller lewe met ’n stadiger pas.

Ons weet nog nie wanneer ons die groot trek sal kan maak nie. Ons is nog afhanklik van die Kanadese regering om ons aansoek goed te keur, maar ons is vol hoop dat ons die komende Kanadese somer eerstehands sal kan beleef. Intussen is ek bitter opgewonde oor die nuwe avontuur wat op ons gesin wag. Maar ook om terug te kyk na die hele proses en te weet – dit was die moeite werd.

Hou hierdie spasie dop vir die res van ons reis.

Comments

Post a Comment

Popular posts from this blog

'n Gewone lewe

Perspektief