Holderstebolder
Jessica Newendyke - Unsplash Uiteindelik! Ons is veilig in Kanada! En soos dit my en my man betaam was die hoogtepunt van ons jaar tot dusver nét só – holderstebolder. My ma het later gesê dit het letterlik gelyk asof ons oornag gevlug het. Ons twee is bekend daarvoor dat ons oorhaastige besluite maak en nie altyd deeglik beplan voor ons iets aanpak nie, maar mens sou reken dat ons die laaste stap van die ontworteling met meer voorsorg sou aanpak. Ons lewe tans egter midde ’n pandemie, so ek reken in hierdie geval het ons aanpasbaarheid handig te pas gekom. Die emosies is dalk nie meer so vars nie, maar ek deel graag die gebeure rondom ons vlug na ons nuwe tuiste. Ek het vroeër genoem dat ons kandidate was vir die nuwe Rural Immigration Pilot. COVID het dit, soos baie ander dinge, ook in die wiele gery en daar was geen duidelikheid oor wanneer ons aansoek verwerk sou word nie. Ons enigste alternatief was dus om aansoek te doen vir ’n werkspermit. Onder COVID-regulasies was die wagt...