Posts

Showing posts from October, 2020

Dag-tot-dag in ons nuwe tuisland (Deel 1)

Image
Wanneer mens immigreer, voel dit aanvanklik so bietjie soos vakansie. Ek moes myself reeds in die eerste week herinner dat ons nie weer terugvlieg Suid-Afrika toe nie, ná ek ’n paar notas in my kop gemaak het oor wat die vlug met die seuntjies makliker sou maak. Ek moes daaraan werk om nie heeltyd te praat van “ Back home ...” nie en slegs verwys na “ In South Africa ...” – Kanada is mos nou my huis. Mag van die gewoonte, reken ek. Want alles, letterlik alles, is anders hier en dit gaan ’n wyle neem om daaraan gewoond te raak. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ons is bitter dankbaar dat ons hier mag bly, maar die verandering is heelwat groter as wat ek verwag het. Ek deel dus graag ’n paar dinge wat ons tydens ons eerste maand in Altona teëgekom het. As jy hoegenaamd ’n kinkel in jou haar-tekstuur het sal jy met my simpatiseer – my hare kroes hier erger as by die see. Dit lyk alewig of ek nie my hare gekam het nie en ’n wasige stralekrans om my kop ronddra. Ons beleef reeds temp

Holderstebolder

Image
Jessica Newendyke - Unsplash Uiteindelik! Ons is veilig in Kanada! En soos dit my en my man betaam was die hoogtepunt van ons jaar tot dusver nét só – holderstebolder. My ma het later gesê dit het letterlik gelyk asof ons oornag gevlug het. Ons twee is bekend daarvoor dat ons oorhaastige besluite maak en nie altyd deeglik beplan voor ons iets aanpak nie, maar mens sou reken dat ons die laaste stap van die ontworteling met meer voorsorg sou aanpak. Ons lewe tans egter midde ’n pandemie, so ek reken in hierdie geval het ons aanpasbaarheid handig te pas gekom. Die emosies is dalk nie meer so vars nie, maar ek deel graag die gebeure rondom ons vlug na ons nuwe tuiste. Ek het vroeër genoem dat ons kandidate was vir die nuwe Rural Immigration Pilot. COVID het dit, soos baie ander dinge, ook in die wiele gery en daar was geen duidelikheid oor wanneer ons aansoek verwerk sou word nie. Ons enigste alternatief was dus om aansoek te doen vir ’n werkspermit. Onder COVID-regulasies was die wagt