Posts

Showing posts from September, 2021

525600 minute

Image
Ek bevind myself op ’n interessante plek in my lewe. Ons een-jaar-herdenking in Kanada het gekom en gegaan. Ons het ’n huis gekoop en ’n maand terug ingetrek. Somer het reeds plek gemaak vir herfs en die nuwe skooljaar het begin. Baie het in drie maande gebeur – sedert my laaste skrywe. Ek het nie regtig ’n geldige rede vir die uitstel nie. Dalk het ek gevoel die mense wat regtig belangstel het al hierdie nuus reeds ontvang – sommige van hulle met foto’s en video’s as bewyse. Dalk het ek gewag vir inspirasie om my te kom aanmoedig. Dalk kry ek skaam oor hoe my Afrikaans verswak het. Dalk was ek sommer net lui. Hoe dit ook al sy, laat is beter as nooit. Dit is onwerklik om te dink dat ons verpligte kwarantyn verlede week ’n jaar terug verby was. Net so onwerklik om te dink dat ons ’n jaar terug op ’n vliegtuig geklim het sonder enige insig oor wat vir ons voorlê. Onder onstuimige omstandighede. En hier is ons nou! Ons het dit gemaak! Ons het deurgedruk en het elke dag dapper aangepak