Van werksoek na weerbaarheid

As mense hoor ons emigreer Kanada toe, is die eerste vraag gewoonlik of een van ons ’n werk daar gekry het. Ons het van die begin af besluit dat ons die skuif beslis nie sonder ’n werksaanbod sal maak nie, so dit was ’n belangrike deel van die proses.



My man Callie* is ’n programmeerder – ’n beroep hoog in aanvraag in Kanada. Ten spyte daarvan was dit baie moeiliker om ’n werk te kry as wat ons ooit kon voorspel, hoofsaaklik omdat ons nog in Suid-Afrika was. Hy het daagliks vir poste aansoek gedoen, op elke platform denkbaar. Tussen meer as 300 aansoeke het hy drie onderhoude gehad wat onsuksesvol was, nadat hy dae lank aan ’n lyntjie gehou is. Uiteindelik, net toe ons wil tou opgooi, kry hy terugvoer van Elmer’s Manufacturing in Altona. Reeds van die eerste gesprek af was hul aanslag totaal anders as die vorige ervarings. Hulle was gemaklik, vriendelik en het oor ons gesin uitgevra. Ons het dadelik begin navorsing doen oor die dorp en besef dat dié pos ons nie net na ’n ander land gaan neem nie, maar dat ons die stad vir die platteland gaan verruil.

Die onderhoud met Elmer’s gaan baie goed en ons wag in spanning vir terugvoer. Dae gaan verby...ons is rasend. Intussen kry my man uit die bloute ’n boodskap op LinkedIn oor ’n pos by ’n bank in Nieu Seeland en ons is heeltemal verward – is Kanada dalk nie vir ons beskore nie? Moet ons die proses op ys plaas en Nieu Seeland oorweeg, al was dit van die begin af nie een van ons keuses nie? Net ná my man besluit om ’n onderhoud met die bank te reël, laat weet Elmer’s hom dat sy aansoek suksesvol was. My man het ’n werk! Ons gaan Kanada toe! Wat ’n wipplank van emosies in ’n kwessie van twee weke.

Callie het September 2019 van Suid-Afrika af deeltyds vir Elmer’s begin werk. Te danke aan moderne tegnologie kan hy video-oproepe met sy nuwe span meemaak, maar die sewe ure tydsverskil en die afstand was (en is steeds) ’n groot uitdaging. Sedert Desember werk hy nou voltyds vir die Kanadese. 

Elmer's se Haulmaster graanwa


Die volgende stap was om vir ’n werkspermit aansoek te doen. Net voor ons met dié proses begin kondig die Kanadese regering ’n nuwe program aan wat vaardige immigrante in plattelandse gemeenskappe wil vestig. Elf gemeenskappe word aangewys, en Altona is op die lys. Ek het nog nooit in toeval geglo nie, maar dit was beslis ’n toe-val-lig-oomblik. Wat dié program vir ons ideaal maak is dat jy en jou gesin dadelik permanente verblyfreg kry, in plaas van ’n tydelike werkspermit. Maar toe begin die wag van voor af.

Die Kanadese verstaan nie hoe dinge in Afrika werk nie. Of dalk eerder dat dinge hier eenvoudig nie werk nie. Al die admin sloer. Gelukkig het ons vroegtydig, lank voor die werksaanbod, van die nodige admin afgehandel; taaltoetse, kwalifikasies verifieer, onverkorte geboortesertifikate en bestuursrekords. Volgende aan die beurt was die polisieklaring, waarvoor ons 10 weke gewag het. Ons is alweer rasend.

Ek het ons aansoek vir die landelike gemeenskapsprogram amptelik in Februarie ingedien terwyl ek in Halifax was. Ek is heeltyd bekommerd dat die Kanadese by Elmer’s se geduld gaan opraak of dat my man se werksaanbod gaan verval. Boonop begin ons oudste met “Kindergarten” in September vanjaar, en die tyd stap aan. My man se kontak by die stadsraad is besonders optimisties oor die vordering en ons wil graag daarin deel, maar die werklikheid dat ons van die Suid-Afrikaanse ambassade afhanklik is maak ons skepties.

Nog ’n onderwerp wat rondom emigrasie handel is geloof. Veral, in my ervaring, die vraag of mense wat kies om te emigreer nie genoeg geloof het dat dinge in Suid-Afrika sal beter word nie. Ek dink dat dit net soveel geloof verg om te gaan as om te bly. In ons geval sien ek God se hand in elke tree wat ons proses vorentoe gee en het berusting dat Hy ons gesin na Altona toe stuur. Ja, dit was ons keuse om te emigreer en ja, ons het Kanada gekies, maar God sê tog in sy Woord dat ons ons behoeftes aan hom mag bekend maak. En ten spyte van my menslike ongeduld en bekommernisse is Sy tydsberekening perfek.

Ons kan maklik God se guns miskyk wanneer dit voel of die proses agteruit beweeg. Terwyl ons in spanning wag het ons en ons families tyd gehad om hierdie reuse skuif emosioneel te verwerk. Ons kinders kon kosbare tyd saam met hul oupas en oumas spandeer. En deur elke struikelblok kon ons waardevolle lesse oor onsself en ons gesin leer.
Ek laat dalk my vriende, familie en besittings agter, maar my God en my manne kom saam. En dit is al wat ek nodig het.

*Callie is eintlik Carel gedoop. In Kanada sal hy egter Carl heet want as jy Callie of Carel in ’n Kanadese aksent uitspreek is dit vrouename...

Hier is ’n video oor die projek waarmee my man besig is:

Comments

Post a Comment

Popular posts from this blog

'n Gewone lewe

Perspektief

Wie nie waag nie, wen nie