My eerste indrukke van Kanada (as ’n toeris)
Ek het
onlangs die ongelooflike geleentheid gehad om Kanada eerstehands te gaan
beleef. Me, myself and I. Nie net as ’n welverdiende wegbreek nie, maar ook om
my eie indrukke oor die land en sy mense in te win. Dit is mos anders om ’n
plek in persoon te beleef. Geen poskaart of stock foto is heeltemal
getrou aan die werklikheid nie en mens moet daai soort koue aan jou eie bas
voel! Boonop het ek nog nooit voorheen sneeu gesien nie, so dit was ’n bonus om
my kuier vir die winter te beplan.
Ek het eers
via Frankfurt (ek was baie beïndruk met die SAL-vlug) en Montreal na Halifax,
Nova Scotia gereis. In Montreal het daar egter ’n sneeustorm vir my gewag. My
vlug na Halifax is drie keer gekanselleer weens die slegte weer en in só geval
maak die lugdiens nie voorsiening vir hotelverblyf vir gestrande toeriste nie. Ek
was vir amper ’n dag op ‘n lughawe vasgekeer waar meeste mense nie eens Engels
gepraat het nie en boonop nie baie vriendelik is nie.
Ek was
gereed om handdoek in te gooi en sommer net huis toe te gaan, toe Iris Inkpen oor
my pad kom. Sy is ’n ouma van Newfoundland – ’n provinsie wat bekend is vir
gawe mense met ruim harte. Blykbaar tel sy gereeld afvlerkvoëltjies op en sy
het haar oor my ontferm. Ons het ’n hotelkamer gedeel ná die lugdiens al die passasiers
op ons laaste vlug, net voor middernag, na die volgende oggend geskuif het. Sonder
dat ek dit verwag het, het sy vir die kamer betaal ook. “Ek moes buitendien die
kamer gebruik, volgende keer help jy weer iemand anders,” sê sy beleefd. Ek was
stomgeslaan! Maar so dankbaar. Toe ons uiteindelik op die vliegtuig sit wat wel
opgestyg het, vind ons toevallig uit dat ons ’n verjaarsdag deel. Ek skryf haar
besonderhede neer sodat ek later weer met haar kontak kan maak en ek dink
gereeld aan haar en haar guns.
Halifax is
basies ’n eiland, aan Kanada se ooskus. Ek het by vriende tuisgegaan. Louis en
Debbie bly op ’n kleinhoewe met ’n woud in hul agterplaas. Dit is prentjiemooi!
Die weer was gematig vir Februarie en die temperatuur het gewissel tussen -2 en
2°C bedags en snags tot -17°C gedaal. Die huis binne is egter heerlik knus!
Meeste huise in Kanada het ’n kelderverdieping en dit is waar ek geslaap het.
My tuiste in Halifax – 'n Winter-wonderland |
Ek het baie
vinnig besef dat my skoene nie sneeubestand is nie en het op dag twee in ’n
paar waterdigte sneeustewels belê wat jou voete by temperature van -40°C steeds
warm sal hou. Ek het daarin geleef! Ek het ook daarna nie so maklik op die
gladde ys gegly nie. Party oggende was die sneeu ’n goeie 10 cm diep en indien
jou kar buite staan moet jy dit skoonvee voor jy ry. Die strate word vroegoggend
al geskraap en gesout maar jou oprit is jou eie verantwoordelikheid. Almal hou
dit getrou skoon – jy doen dit eenvoudig net.
'n Nag se sneeu op my huurmotor |
Die Titanic-begraafplaas |
Die vuurtoring by Peggy's Cove |
Ek kon fyn waarneem
hoe ’n gesin se week in Kanada lyk – waar hulle inkopies doen, watter soort
produkte in die winkels beskikbaar is, die skoolbus etiket, die manier hoe
vullis sorteer word (een drom vir herwinning, een vir kompos en een vir
algemene rommel) en dat ’n tuimeldroër ’n absolute noodsaaklikheid is. Ek het
ook twee kerkdienste saam met hulle bygewoon. Ek het Peggy's Cove aan die kus, die Titanic-begraafplaas
en die waterfront besoek, waar ek ‘n Tim Hortons-oliebol en koffie geniet het. Tim
Hortons is ’n Kanadese instelling en daar is soms ’n tak op elke hoek te vind.
Sjokolade op sjokolade |
Vandaar is
ek na Winnipeg, in Manitoba – ’n provinsie wat basies in die middel van die land
lê. Die dorp waar ons gesin gaan woon, Altona, is so uur en ’n half suid van
die hoofstad af. Ek het in die hotel tuisgegaan wat sentraal geleë is, so alles
is binne stapafstand. Dit is aansienlik kouer daar! Hoewel dit nie gesneeu het tydens
my besoek nie was daar oral dik sneeu en yslae op die pad, want dit is te koud
om te smelt. Die donsbaadjie wat ek by ’n kollega geleen het was ’n werde en jy
waag dit nie buite sonder ’n toque (dit is ’n mus in Kanada), ’n dik serp
en handskoene nie. Die dagtemperatuur het tussen -20 en -5°C gewissel en die
nag was soms selfs kouer. Die weer het my egter nie afgeskrik nie! Ek het
heelwat mense ontmoet, almal besonders aangenaam, en sien uit daarna om by die
gemeenskap in te skakel.
Ys op die sypaadjie |
’n Paar
interessanthede van Kanada
- Dit was aanvanklik ’n uitdaging om aan die regterkant van die pad te bestuur maar mens raak dit gou gewoond. Dit het gehelp dat my huurmotor outomaties was en die verhitte sitplekke (en stuurwiel!) was ’n bonus.
- Daar is ’n kragprop in elke muur, van elke vertrek. Selfs die badkamer. Dit maak vir my baie meer sin as die ellelange verlengkoorde wat ons in Suid-Afrika nodig het.
- Voetgangers kry altyd voorkeur. As jy oor die pad begin stap (by ’n wettige voetoorgang, natuurlik) stop die verkeer dadelik.
- In die winkelsentrums is daar oral vullishouers wat vir herwinning geskik is. Jy moet jou rommel in die regte drom gooi.
- Rooibostee is oral beskikbaar.
- Belasting is nie by die prys op winkelrakke ingesluit nie en elke provinsie se belasting word anders uitgewerk.
- Daar is nie ’n muur of heining in sig nie, ook nie rondom een van die skole nie. Baie mense het ook nie gordyne voor hul vensters nie.
- In Kanada praat jy nie van yshokkie nie – dit is net hokkie. Jy praat van 'veldhokkie' as jy na die ander variteit verwys.
- Die spoedgrens is stadiger as in Suid-Afrika – 50km/h in woonbuurte en 100km/h op die snelweg. Spoedboetes is dubbel rondom skole.
- Jy het “binne” en “buite” skoene, en jy trek jou skoene uit as jy in iemand se huis instap.
- Almal het gesukkel om my naam uit te spreek...
Altona is PLAT |
Trots op jou, Hesti!
ReplyDelete