Holderstebolder

Jessica Newendyke - Unsplash

Uiteindelik! Ons is veilig in Kanada! En soos dit my en my man betaam was die hoogtepunt van ons jaar tot dusver nét só – holderstebolder. My ma het later gesê dit het letterlik gelyk asof ons oornag gevlug het. Ons twee is bekend daarvoor dat ons oorhaastige besluite maak en nie altyd deeglik beplan voor ons iets aanpak nie, maar mens sou reken dat ons die laaste stap van die ontworteling met meer voorsorg sou aanpak. Ons lewe tans egter midde ’n pandemie, so ek reken in hierdie geval het ons aanpasbaarheid handig te pas gekom.

Die emosies is dalk nie meer so vars nie, maar ek deel graag die gebeure rondom ons vlug na ons nuwe tuiste.

Ek het vroeër genoem dat ons kandidate was vir die nuwe Rural Immigration Pilot. COVID het dit, soos baie ander dinge, ook in die wiele gery en daar was geen duidelikheid oor wanneer ons aansoek verwerk sou word nie. Ons enigste alternatief was dus om aansoek te doen vir ’n werkspermit. Onder COVID-regulasies was die wagtydperk vir ’n WP vanuit Suid-Afrika 17 weke, maar ons was besonders bevoorreg dat my man s’n binne ’n maand goedgekeur is.

Die feit dat my man in noodsaaklike diens werk en ’n geldige werkspermit het, gee hom toestemming om Kanada binne te gaan. Die vraag was egter of ek en die kinders, wat met besoekersvisums sou reis, ook toegelaat sou word. Ek het nagmerries gehad oor hoe ons drie by die grenspos weggewys word.

Ons was bewus van die vergunning dat jy met ’n besoekersvisa mag reis indien jy by ’n familielid aansluit, maar ek was nie bereid om alleen met die kinders te vlieg nie. Nog nagmerries. Ons kontakte in Kanada was ook glad nie ten gunste daarvoor nie en ons is aangeraai om ’n motiveringsbrief vir die immigrasie kantoor te skryf wat noem dat dit in ons gesin se beste belang is dat ons as ’n eenheid reis. Boonop is jy verplig om, wanneer jy Kanada se grens oorsteek, vir 14 dae totaal te isoleer en jy moet kan bewys hoe en waar jy dit gaan uitdien. Dit klink soos ’n vonnis. (Dit het amper soos een gevoel...)

Gedurende hierdie tyd het my man die versoek gekry om sy paspoort vir die WP in te dien, asook die kinders s’n vir hulle besoekersvisums. Ek het reeds ’n visum gehad wat vir 10 jaar geldig is. Ons het onsself voorberei vir nog weke se wag, maar is verbasend vinnig in kennis gestel dat die paspoorte binnekort afgelewer sou word. My man het sy motiveringsbrief geskryf en dit vir sy kontak aangestuur vir advies. Toe die paspoorte twee dae later opdaag, is daar twee briewe ook by die pakkie ingesluit. Een wat my man toestemming gee om Kanada te mag binnegaan en een wat my en die kinders ook toestemming gee omdat ons ’n familielid met ’n WP vergesel. Ons was oorstelp van vreugde! Nie net oor die onwaarskynlikheid dat die Kanadese twee-en-twee bymekaar gesit het nie, maar oor die verligting dat ons mag reis en dit saam as ’n familie mag doen.

Ons volgende groot struikelblok was Suid-Afrika se inperking en die feit dat ons ’n repatriasievlug sou moes neem. Dié vlugte was skaars en boonop uitspattig duur. Dit sou ons begroting om in Kanada huis op te sit vreet, maar ons was desperaat genoeg om dit te oorweeg. Gelukkig het ons kontak gemaak met ’n reisagent wat die beskikbare vlugte gereeld dopgehou het en vir ons vlugte kon reël vir helfte die prys waarvoor ons onsself voorberei het. Die beste moontlike prys vir die beskikbare roete was egter net vyf dae weg en ons sou moes gou spring om plekke te verseker. Dus het ons diep asem gehaal, die logiese besluit geneem en holderstebolder begin pak. Ons aardse besittings in agt tasse en vier rugsakke geprop.

Ons is in kennis gestel dat ons die middag van 1 September by Qatar se ambassade bymekaar moes kom en van daar sou ons met busse na die lughawe vertrek. Wat ons nie geweet het nie, is dat ons deur twee polisievoertuie en ses -motorfietse vergesel sou word – sirenes en al. Ons het soos VIP’s gevoel! Die lughawe het soos ’n spookdorp gelyk en slegs die individue wat iets met ons vlug te make gehad het was teenwoordig. Dit was aardig! Maar nou ja, vreemde tye.

Die gemaskerde Steenkampe by Qatar se ambassade

Die eerste vlug van Johannesburg na Doha was omtrent leeg en ongeveer agt ure. Daarna is ons op ’n stampvol vlug na Montréal, ’n vlug van 14 ure. Dit was ’n uitdaging met die twee seuntjies maar as ek eerlik is het dit onder omstandighede baie goed gegaan. Montréal (die lughawe waar ek met my vorige besoek aan Kanada vir 24 uur gestrand was) was ook die plek waar ons die grenspos moes trotseer en met elke tree nader aan die kwaai vrou agter die toonbank het ek meer benoud geraak. Ek en my man was teen hierdie tyd so gedaan omdat ons nie op die vliegtuig kon slaap nie en die kinders was ook al keelvol vir die hele affêre. Ons het egter die groen lig gekry en eers toe ek daai stuk papier in my hand vashou – ons amptelike bewys dat ons wettig in Kanada mag woon, kon ek ontspan. Ons het dit gemaak!

Laaste vlug na Winnipeg

Ons laaste vlug was nóg drie ure na Winnipeg, in nóg ’stampvol vliegtuigie. Klaarblyklik is Qatar en Kanada nie so paranoïes oor COVID soos Suid-Afrika nie, al moes ons al die pad met maskers en gesigskerms reis. Ons klim 22:00 in ons huurmotor en durf die pad na Altona toe aan in die reën. 23:30 is ons einde ten laaste in ons hotelkamer en kon ons amptelik met ons kwarantyn begin.

Daar was eenvoudig nie tyd om al ons geliefdes in persoon te groet nie. Adrenalien en Goddelike genade het ons vir daai vyf dae aan die gang gehou en ek het verbasend, vir iemand wat vir enige onbenulligheid tjank, nie ’n traan gestort met die afskeid nie. Dit was nie vaarwel nie, maar eerder net totsiens.

Al het ek reeds ’n lysie van items wat ek in my haas in Suid-Afrika vergeet het, was dit dalk juis ’n besturing dat ons holderstebolder weg is. Sonder tyd om enige iets te “oordink”. Nou kan ons gesin uiteindelik ons wortels in die nuwe (swart) grond van Kanada druk en sal geduldig moet kyk hoe dit skiet. Want dit is hoe ingrypend die hele proses eintlik is, ek gaan nie jok nie. Maar my hart is vol en my angs is weg.

 

Altona, ons nuwe tuisdorp.

 

Comments

  1. Welkom in Kanada. Klink of jul 'n rowwe tyd agter die rug het. Al wat ek se is baie sterkte.
    Ek glo hier is SA mense wat gelukkig is en dan glo ek ook dat baie vir hulself lieg.
    Almal skryf oor die "cool" Kanada niemand skryf oor hoe dit werklik is ni.
    Baie van die stories is waar wat hul van Kanada vertel maar die lank en die kort is, dat ons nie hier hoort nie, hierdie is nie ons land en ons mense nie. Ek weet ons almal verskil. Gelukkig. 6jaar al hier en wil nou nog meer terug gaan as ooit tevore.
    Sterkte, ons kan dalk eendag ontmoet want ons is nie te ver van mekaar af nie.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Ons kan beslis! En wat jy sê is baie waar. Dit is nie net maanskyn en rose nie maar ek glo as jou ingesteldheid reg is kan jy ten spyte van die verlange gelukkig wees.

      Delete

Post a Comment

Popular posts from this blog

'n Gewone lewe

Perspektief

Wie nie waag nie, wen nie