Dag-tot-dag in ons nuwe tuisland (Deel 1)

Wanneer mens immigreer, voel dit aanvanklik so bietjie soos vakansie. Ek moes myself reeds in die eerste week herinner dat ons nie weer terugvlieg Suid-Afrika toe nie, ná ek ’n paar notas in my kop gemaak het oor wat die vlug met die seuntjies makliker sou maak. Ek moes daaraan werk om nie heeltyd te praat van “Back home...” nie en slegs verwys na “In South Africa...” – Kanada is mos nou my huis. Mag van die gewoonte, reken ek. Want alles, letterlik alles, is anders hier en dit gaan ’n wyle neem om daaraan gewoond te raak. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ons is bitter dankbaar dat ons hier mag bly, maar die verandering is heelwat groter as wat ek verwag het.

Ek deel dus graag ’n paar dinge wat ons tydens ons eerste maand in Altona teëgekom het.

  • As jy hoegenaamd ’n kinkel in jou haar-tekstuur het sal jy met my simpatiseer – my hare kroes hier erger as by die see. Dit lyk alewig of ek nie my hare gekam het nie en ’n wasige stralekrans om my kop ronddra.
  • Ons beleef reeds temperature onder vriespunt gedurende die nag en soms selfs die dag, maar ons huis is ’n konstante knus 22°C. Tensy ons warm kry, dan sit ons die verkoeler aan. 
  • Die mense is baie gaaf en bereid om te help. Toe ons in kwarantyn was het my man se kollega Owen en sy verloofde Sarah al ons kruideniersware vir ons gekoop en dit op die stoep gelos. Sarah het selfs vir Albert ballonne gebring toe hy die 7de September verjaar het! Daar het ook ’n groot ‘Welkom tuis’ pakkie in ons hotelkamer gewag toe ons moeg en uitgeput net voor middernag die aand van die 2de September daar instrompel.
Daar was verskeie items in hierdie krat wat ons sommer tuis laat voel het.
  • So gepraat van kwarantyn – ons was vir twee weke in die plaaslike hotel se gastehuis opgeskeep en was verbied om by die deur uit te gaan. Dít is hoe streng die Kanadese oor reis tydens COVID is, selfs tussen provinsies. Gelukkig het ons die kinders se Duplo-blokkies in ons tasse gepak en Netflix het basies lewens gered.
  • Ons staan lank en kopkrap by die winkelrakke omdat al die handelsmerke vir ons vreemd is. Jy voel naderhand so oorweldig deur al die keuses dat jy net iets gryp en wegloop en dan later oordeel of jy liefs iets anders wil beproef.
Hoe moet mens nou weet watter melk om te kies?
  • Meeste items is duurder as waaraan ons gewoond dis. Ek skakel nog die prys in my kop na Rand om en dan is dit onbekostigbaar, so ek probeer om dit te vermy. ’n Pak skyfies sal jou byvoorbeeld tussen $4 en $10 uit die sak jaag. Dan moet jy nog belasting bytel en dit met 13 maal vir die Randwaarde.
  • So gepraat van belasting, in Kanada is belasting nie by die prys op winkelrakke ingereken nie. Elke provinsie se belasting werk ook anders. Manitoba se belasting beloop 7% en die staat ’n verdere 5%. Items wat nie verwerk is nie, soos vars groente en vrugte, is wel belastingvry.
  • Eierdoppe is spierwit. Ons hap dus gereeld ’n stukkie dop met ons kook eier raak, maar dit is ’n #eerstewêreldprobleem.
  • Jy trek jou skoene uit as jy by iemand se huis instap, ongeag die seisoen. Dit maak heeltemal sin vir die winter wanneer jou skoene vol sneeu (wat smelt) en modder is, maar jou huis se vloere word oor die algemeen nie so vinnig vuil nie. Wat handig is as jy self jou vloere moet skoon hou.
  • Jy groet jou gaste by die voordeur as hulle vertrek. In Suid-Afrika vergesel jy mekaar mos tot by die motor en dan word ’n hele nuwe geselsie aangeknoop. Dit voel so bietjie onpersoonlik maar ons giggel nog daaroor.
  • Altona het twee lieflike parke met groot klimrame vir die kinders en dan is die skool se klimrame ook beskikbaar vir openbare gebruik na-ure. Dit is altyd skoon en netjies, buiten dalk vir ’n enkele kous of mus wat agtergelaat is en net daar sal bly lê tot die eienaar dit kom terug eis.
Die laerskool se speelgrond.
  • Die spoedgrens binne die dorp is 50 km/h, net buite die dorp is dit 70 en op die hoofweg is dit 100. Dit is so bietjie stadig vir my...maar die boetes vir verkeersoortredinge is baie hoog so ek gebruik maar liefs die motor se spoedbeheerfunksie om myself in toom te hou.
  • Jy begin jou skoolloopbaan met Kindergarten in die jaar wat jy vyf word, wat soos SA se Gr R is. In Altona is Kindergarten slegs elke tweede dag, omdat hulle glo dat kinders van daardie ouderdom nog moet speel. Dit is nie die geval in ander provinsies of selfs dorpe nie want elke skooldistrik het sy eie program en kurrikulum. Ralph het einde September (net betyds vir sy vyfde verjaarsdag) by sy klas aangesluit en die Engels vorder verbasend goed.
  • Skool is gratis in Kanada van Kindergarten tot Gr 12. Die skooljaar skop in September af, na twee lang maande van somervakansie. Daar is ’n lae heining rondom sekere gedeeltes van die laerskool, maar dit is waarskynlik om die kinders binne te hou eerder as iemand buite te hou. Fietse staan oop en bloot buite geparkeer.
  • Die grond hier is swart. Dit is nou oestyd en ek het eers gedink die gestroopde landery het gebrand, tot ek besef het dat dit die kleur van die grond is.
  • Die Kanadese posdiens WERK! En is betroubaar. Meeste aflewerings van ons aanlyn-aankope word deur hulle hanteer.
  • Die munisipaliteit is ook uiters doeltreffend. Daar is drie dromme vir vullis by jou huis – een vir algemene huisvullis in swartsakke, een vir al jou herwinbare items en een vir kompos. Elke drom word deur ’n ander vragmotor leeggemaak. Dit is jou verantwoordelikheid om seker te maak jy plaas die regte items in die regte dromme, anders word dit nie weggery nie. Ek moes mooi oor die kompos- en herwinningsisteem op die dorp se webblad gaan nalees. Enige organiese afval wat van ’n dier of ’n plant afkomstig is, rou of gaar, mag slegs in die komposdrom gegooi word. So ook leë eierkartonne, papierborde, sneesdoekies, watte en bakpapier. Jy hoef nie herwinbare items te sorteer nie, dit moet net heeltemal skoon wees.
Spesiale drommetjie in die kombuis vir kompos.
 
Winter is om die draai en ons eerste sneeu word vir volgende week voorspel, so dan behoort ons die omgewing vanuit ’n heel ander hoek te ervaar. Vir oud-Pretorianers gaan die logistiek van bibberkoue winters waarskynlik die grootste uitdaging wees. Baie dinge is dalk nog vreemd hier, tog is ons mense al wat ons wérklik mis. Intussen geniet ons die leerkurwe en pak elke nuwigheid met ywer aan!

Besoek gerus Altona se webblad om meer oor die dorp te lees.

Comments

Popular posts from this blog

'n Gewone lewe

Perspektief

Wie nie waag nie, wen nie