Siek-en-sat vir COVID-19

Ek was vasbeslote om nie ’n bloginskrywing oor COVID-19 te maak nie, want ek was voor die inperking reeds moeg vir die virus-verwante inligting wat my om elke hoek en draai oorweldig het. Dit is egter nou 47 dae later en alles wat ek te sê het, het op een of ander manier iets met die pandemie te make. Dit maak jou siek, of jy dit nou onder lede het of nie.

’n Illustrasie van die koronavirus, CDC (Unsplash)


Dit is baie moeilik om vir ’n virus kwaad te wees. Jy kan dit nie aanspreeklik hou nie. Jy kan dit nie beboet nie. Jy kan dit nie skel en vloek nie (want kom ons wees nou maar eerlik, soms laat dít mens immers ’n bietjie beter voel). Trouens, jy kan niks binne jou menslike beheer doen om die virus of sy pad van verwoesting te beïnvloed nie, behalwe dalk om na jou eie gesondheid om te sien.

Ek kan vir ons president kwaad wees, hoofsaaklik vir die skade wat hy aan ons ekonomie berokken het. Of dat sy regering ons menseregte van só mate beperk dat dit vir elke demografie ondraaglik geword het. Ek kan vir hom ’n brief skryf, soos Gareth Cliff, maar hy sal hom tog nie daaraan steur nie en boonop sal ek dan mos ’n bevoorregte rassis wees en dáárvoor het ek nie krag nie.

Iemand het onlangs op Facebook gesê dat ons almal in dieselfde storm is, maar beslis nie in dieselfde boot nie. As mens na Suid-Afrika se bevolking kyk is ons gesin beslis in ’n gunstige posisie. Ek en my man kan beide van die huis af werk, al is dit ’n onrealistiese uitdaging om dit met ’n verveelde 4- en 2-jarige reg te kry. Iewers skiet iets altyd te kort. Ons was nog nooit bang dat ons honger hoef te gaan slaap nie. Dit is vir ons moontlik om steeds ons huishulp en die kleuterskool te betaal al gebruik ons nie hulle dienste nie – dit is immers die regte ding om te doen. Ten spyte van my angsversteuring kon ek tot dusver nog normaal funksioneer en is ons gesin nog almal lief vir mekaar, al is ons uitgekuier.
Vra egter vir enige gesin wat te midde die pandemie probeer emigreer hoe dit REGTIG met hulle gaan, en jy sal ’n baie eerlike antwoord kry. Want ons is GATVOL. Ons is rasend. Ons wil en kan nie meer geduldig wees nie en bid al vir wonderwerke. 
Ons lewe met die geld wat ons gedink het ons opsy sit om anderkant mee oor te begin. Ons beplanning vir waar ons gaan bly en wanneer ons van ons besittings gaan ontslae raak is omver gegooi. Ek weet van ’n gesin wat reeds hul werk bedank het en hul meubels verskeep het, en hier sit hulle nou – vasgekeer in een groot konsentrasiekamp.

Ons moes verlede week basies ’n koerier oortuig (en baie geld betaal) om ’n klomp dokumente na Kanada te verskeep, ná Postnet ons nie wou help nie. Ons aansoek om wettig in Kanada te werk en bly hang daarvan af en ons kon voor vlak 4 niks daaraan doen nie. Indien die aansoek wel binne die volgende paar maande goedgekeur word, weet ons nie hoe ons in Kanada gaan kom nie. Indien ons wel ’n vlug kan kry, gaan dit ons waarskynlik ’n arm en ’n been kos. Ons het ’n mate van beheer in ons daaglikse doen en late, soos om die kinders se roetine konsekwent te hou, maar verder is dit bloot ’n oorlewingstryd. Ja, ek klink seker melodramaties, maar in ons werklikheid probeer ons net emosioneel kop bo water hou.

Ons moes noodgedwonge ’n paar moeilike besluite maak om by ons onsekere tydlyn aan te pas (as mense my nou vra wanneer ek dink ons in Kanada sal wees, vra ek hulle hoe lank ’n stuk tou is). Ek werk nog net tot die einde van die maand en dan gaan ek voltyds na die kinders kyk. My man kan gelukkig steeds vir die Kanadese werk omdat die maatskappy deel van ’n noodsaaklike diens is, maar hy moet ook sy volle aandag aan sy werk kan gee en met sy vrou en kinders tuis is dit moeilik. Dan trek ons binne die komende twee weke by my ouers in, aangesien ons huurkontrak verstryk het en ons dit nie met vrymoedigheid kan hernu nie. Dit help dat ons nou stelselmatig, tog drasties aan ons besittings moet sny, wat ons buitendien sou moes doen as ons die groot trek oorsee aandurf. Ons kry die geleentheid om vir oulaas kosbare tyd saam met ons familie te spandeer, al beteken dit dat ons ‘n leefspasie onbepaald met hulle moet deel.

Die afgelope 47 dae voel vir my soos wanneer jy verdwaal en op ’n ongemerkte grondpad beland – een van daai wat jou GPS nie eens herken nie. Aanvanklik probeer jy die natuurskoon bewonder maar dit hou mens net só lank tevrede. Kort voor lank is jou padkos klaar en jy raak moeg vir jou speellys en die ander passasiers se geselsies. Jy wens jy kan eerder omdraai, maar jy is só desperaat om jou eindbestemming te bereik dat jy eenvoudig koers hou en blindelings voortbeur. Ek weet nie hoe lank ons nog op hierdie grondpad gaan wees nie, maar my boude is al lam gesit en ek smag na beskawing. Dit is al wat ek met sekerheid kan sê. So toe besluit ek om tóg maar ’n COVID-19 inskrywing te maak. Ek kon dalk nie die virus vloek en skel nie maar ek moet bieg dat my gemoed nou effe ligter voel.

Comments

Post a Comment

Popular posts from this blog

Perspektief

'n Gewone lewe

Dis heerlike lente