Die goed saam met die sleg

Dit is nou amptelik ’n week en twee dae sedert ek my kantoorwerk vir voltydse mamma verruil het. Dus het ek nou meer plek in my kop terwyl ek agter die seuntjies aanhardloop. In my vorige inskrywing het ek die swaarte van COVID-19 en die inperking van my bors af gekry, so nou wil ek graag die positiewe invloed wat dit op my lewe gehad het deel. Sommige daarvan was maklik om raak te sien, vir ander moes ek dieper gaan delf.

Bruno Nascimento – Unsplash

Ek noem dikwels opmerkings wat mense maak as hulle hoor jy emigreer. Een daarvan is die bekommernis dat ons Suid-Afrikaners gaan sukkel om sonder ’n huishulp klaar te kom. My feetjie het twee maal per week by ons kom draai voor die inperking en dit was altyd so lekker om by ’n skoon huis in te stap. Ná inperking moes ek skielik voltyds tuis werk, na die kinders kyk (ek en my man moes beurte maak) EN die huiswerk doen. Jy leer vinnig om die wasgoed op te hang terwyl die kinders televisie kyk of slaap – en ja, my kinders het BAIE televisie gekyk tydens die grendelstaat. Elke dag maak jy iets anders skoon en jy gaan slaap nie snags voor die kombuis nie opgeruim is nie. En weet jy wat? Ons het dit oorleef. Na twee maande kon ek heel tevrede sonder feetjie cope. So om die oorspronklike vraag te beantwoord: ja, ons sal op ons eie klaarkom. Buitendien het al die huise in Kanada ’n tuimeldroër – ’n luuksheid wat my nie tans beskore is nie.

Ons bly nou al drie weke by my ouers en hoewel daar nou ses mense is wat omkrap is daar darem vier volwassenes om die huiswerk ligter te maak. So ons hou die pas vol, behalwe dat ek nou nie heen-en-weer tussen die wasgoed en my rekenaar hoef te hardloop nie. Net tussen die wasgoed en my kinders se streke. Hulle maak mos die meeste droog wanneer jy reeds besig is om skoon te maak en hulle nie onder oë het nie. My man kan sedert ek tuis is vir ’n verandering sy volle aandag aan sy werk gee en loer elke nou en dan in dat ons koffie saam kan drink. So almal is meer produktief.

Te danke aan vlak 3 kan ons elke oggend met die kinders om die blok gaan stap. Tydens die eerste maand van inperking kon ons nie eens in ons kompleks rondloop nie.

Dit bring my by ’n volgende bekommernis oor emigrasie, veral as ek sê ek gaan nie dadelik werk nie – “Wat gaan jy heeldag met die kinders en jouself maak?” Wel, daarvoor het die (absurde) grendelreëls ons goed voorberei. Ek weet nou presies hoe dit voel om 24/7 in ’n klein spasie saam met my drie manne opgeskeep te sit. Wonderbaarlik het ons dit goed bestuur en almal kon lewendig en lief vir mekaar daaruit wegstap. Die verskil is egter dat ek in Kanada enige tyd met die kinders park toe kan gaan of sommer net in die straat met hulle fietse kan gaan ry. Ons gaan nie in die huis vasgekluister wees nie. Selfs nie in die winter nie, want daar is oorgenoeg om te doen. Omdat die dorp waar ons gaan woon so klein is, is meeste plekke stapafstand en jy kan die pad met ’n geruste hart aandurf. My man sien ook baie uit daarna om weer in ’n kantoor te werk en sy kollegas in die oë (in dieselfde tydsone) te kyk.

Daar is ook heelwat debatte rondom emigrasie oor die bagasie (die letterlike soort) wat jy saamneem. Party gesinne verkies om al hulle meubels te verskeep, terwyl ander net met hul tasse op die vliegtuig klim en anderkant skoon begin. Ons het op die tweede opsie besluit en moes uiteraard voor ons by my ouers kon intrek van BAIE besittings ontslae raak, omdat daar eenvoudig net nie plek vir alles was nie. Dit is ongelooflik met hoe min jy oor die weg kan kom! Skielik het ek slegs enkele items waaraan ek enige sentiment koppel, want jy weet in jou agterkop jy kan net ’n beperkte hoeveelheid items in jou tas pak. My pa hou my met alle mag uit sy motorhuis – hy is doodbang ek maak namens hom ook skoon... Die voordeel is nou dat ons reeds van só mate gereduseer het dat ons maklik ons tassies kan pak as die tyd kom. En ons weet dat ’n klein begin vir ons vier heeltemal voldoende sal wees.

Dan moet ek net ’n laaste opmerking bespreek – die Kanadese koue. Mense wil mos weet wat ons in daai koue plek wil gaan maak. Of hulle sê bloot net “Julle gaan koud kry!”. Ons het nie gedink ons gaan nog ’n winter in SA wees nie en sjoe! Ons huise is koud. Met my besoek aan Altona in Februarie was dit bedags -10 C en ek het nie naastenby so koud gekry nie. Goed, as jy dááí koue buite sonder ’n ordentlike mus of handskoene aandurf gaan jy spyt wees. Die Kanadese sê nie verniet: “There is no bad weather, only bad dressers.” Hier kry ek nooit my lyf warm nie en loop konstant met ’n verspotte koringsakkie onder my badjie rond.

My eie bekommernis is natuurlik die ontnugtering wanneer my seuntjies, veral die oudste, besef dat die ouma’s en oupa’s nie meer binne ry-afstand is nie. My kinders het nie eintlik maats nie, hulle grootouers is hulle maats. Gelukkig weet ons dat Skype die verlange draagbaar kan maak omdat ons dit noodgedwonge op die proef moes stel. Ek weet ook hoe lekker dit vir ons ouers is om oor en oor na daai ou stemmetjies se lekker-slaap-boodskappe op WhatsApp te luister. Immers kry ons nou vir eers baie van mekaar te sien en ons skaaf so bietjie aan mekaar se roetine en maniertjies.

Dit verstom my hoe aanpasbaar die mens is. Veral klein kindertjies. Omdat ons hierdie malligheid van die afgelope drie maande kon oorleef, weet ek dat ons in Kanada sal floreer.

Comments

Popular posts from this blog

'n Gewone lewe

Wie nie waag nie, wen nie

Perspektief