’n Nuwe balans vir ’n introvert

Ek en my man is albei selferkende huislywe. Dis nou sommer ’n woord wat ek uitgedink het, kluisenaar klink bietjie drasties. As ons ’n keuse het, spandeer ons ons tyd tuis eerder as om uit te gaan. Ons is uiteraard nie bekend daarvoor dat ons die dorp rooi, of enige ander kleur, verf nie. Dit beteken nie ons gaan nooit uit nie, ons moet onsself net deeglik voorberei en genoeg krag hê om die buitewêreld aan te durf. Ek laat dit nou in elk geval dramaties klink, maar eintlik is ons maar net sterk introverte.

Daar is ’n wanindruk dat introverte nie mense-mense is nie. Jy weet – ’n People’s Person. Maar dit is glad nie die geval nie. Ons verkies ons mense net in klein dosisse en binne ’n beperkte raamwerk. As ons op ons gemak voel, praat ons ’n hond uit ’n bos uit. Daarteenoor is ons werklik slegte geselskap as ons moeg en gespanne is. Deesdae voel dit vir my of ons permanent moeg en gespanne is (met komplimente van China) en ek begin al wonder of mense dink ek wil hulle nie meer ken nie. Nietemin, ’n tee-afspraak met ’n beste vriendin kan beslis ’n lafenis vir die siel wees en ten spyte van die huidige konstante moeg-en-gespanne-situasie mis ek dit vreeslik. Ek het voor die inperking laas só afspraak gehad. Die geleentheid om jou hart leeg te praat by ’n oor wat aandagtig en sonder oordeel na jou luister. En ek wonder, as ek aan my hartsmense dink, hoeveel geleenthede ek nog oor het om só afspraak met hulle in Suid-Afrika te reël.

Ek is bitter bevoorreg met mense wat al diep spore in my hart getrap het. My verhouding met elkeen is uniek, wat dit ook meer spesiaal maak. Al sien ons mekaar min, hou lang gesprekke op WhatsApp ons op hoogte van mekaar se doen en late. Introverte verkies oor die algemeen om boodskappe tik eerder as om ’n oproep te maak, maar soms is dit ook net wonderlik om iemand se stem te hoor. Ek maak self nie gereeld gebruik van stemboodskappe nie maar ek geniet dit vreeslik om dit te ontvang. Dit is ’n funksie van die toep wat nog baie handig te pas gaan kom as ons eers ver is. Jy kan enige tyd van die dag daarna luister (let op die tydsverskil tussen SA en Manitoba) en jy kan dit oor en oor speel as jy sou wou. Ek en die seuntjies stuur nou en dan sulke stemboodskappe vir die ouma’s en oupa’s om te oefen. Daai stemmetjies kan mens se hart vermurwe, hoor!

As ’n introvert is dit nie binne my natuur om maklik nuwe mense te ontmoet nie. Daar moet redelik vinnig ’n aanknopingspunt wees om die ander persoon verby my onbeholpenheid te laat kyk sodat hulle my meer aangename kwaliteite kan raaksien. Mense wat my ken sal dalk wonder waarvan ek praat (ek oorreageer nou so effe) maar as ek myself van buite kon dophou terwyl ek “maats probeer maak” sal ek so lyk:


Waarheen ek eintlik op pad is met hierdie wydlopige storie is dat ek, sodra ek in Kanada is, moeite sal moet doen om nuwe hartsmense te vind. Wel, ek wil nie noodwendig sê “nuwe” nie want ek gaan geen van my hartsmense verloor of afstaan nie. Kom ons sê maar Kanadese hartsmense. Gelukkig is ons kinders nog klein so ek sal hulle as aas kan gebruik by die speelpark of langs die meer se oewer. Waar daar kinders hulle ouderdom is moet daar ouers ons ouderdom naby wees. Ek moet bieg dat die paar mense wat ek gedurende my besoek aan Altona ontmoet het besonders aangenaam was. Almal het in my menswees belang gestel en uitgevra oor my behoeftes en my gesin. Ek is bly dat ek reeds ’n paar gesigte ken. Op ’n klein dorpie soos daar ken almal mekaar mos maar so die gesigte behoort my aan ander gesigte voor te stel. Ek weet nie of dít die introvert binne my opgewonde of vreesbevange moet maak nie maar ek vermoed dit gaan baie makliker wees om mense in die platteland te bevriend teenoor die groot stede, so dit is ’n bonus.

Wat introverte spesiaal maak is dat hulle geneig is om mekaar te vind. Sommer van self. Dit vat nie lank om mekaar uit te snuffel nie en alhoewel ons nie daarteen gekant is om ekstroverte te bevriend nie, verstaan ander introverte wanneer ons opgewonde raak om net tuis te bly.

Ek hoop wel ek ontmoet ’n paar ekstrovert Kanadese wat ons huislywe so bietjie aan die natuur sal blootstel. Ek beplan nie om skielik te kampeer nie (dit is bietjie drasties vir my) maar geniet dit om ver ente te stap en sal graag saam met die seuns wil fietsry en ander aktiwiteite in die buitelug ontdek. In Kanada, en selfs in Altona, is daar oorgenoeg aktiwiteite om jou buite jou huis besig te hou – winter en somer. Ek vermoed dat die nuwe fase van ons lewe noodgedwonge baie meer gebalanseer gaan wees en as ek eerlik is sien ek nogal uit daarna. Solank ek gereeld met ’n boek of ’n reeks kan opkrul om my batterye te laai, sien ek kans vir baie!

Introverts unite! At home. Separately.


Comments

Post a Comment

Popular posts from this blog

Perspektief

'n Gewone lewe

Dis heerlike lente