Dag-tot-dag in ons nuwe tuisland (Deel 1)
Wanneer mens immigreer, voel dit aanvanklik so bietjie soos vakansie. Ek moes myself reeds in die eerste week herinner dat ons nie weer terugvlieg Suid-Afrika toe nie, ná ek ’n paar notas in my kop gemaak het oor wat die vlug met die seuntjies makliker sou maak. Ek moes daaraan werk om nie heeltyd te praat van “ Back home ...” nie en slegs verwys na “ In South Africa ...” – Kanada is mos nou my huis. Mag van die gewoonte, reken ek. Want alles, letterlik alles, is anders hier en dit gaan ’n wyle neem om daaraan gewoond te raak. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ons is bitter dankbaar dat ons hier mag bly, maar die verandering is heelwat groter as wat ek verwag het. Ek deel dus graag ’n paar dinge wat ons tydens ons eerste maand in Altona teëgekom het. As jy hoegenaamd ’n kinkel in jou haar-tekstuur het sal jy met my simpatiseer – my hare kroes hier erger as by die see. Dit lyk alewig of ek nie my hare gekam het nie en ’n wasige stralekrans om my kop ronddra. Ons beleef reeds temp...