Troebel waters

Jeremy Bishop - Unsplash

 Ek sit vandag en dink oor my swaar gemoedstoestand. Ek voel boonop baie selfsugtig ook, want ons het mos nou gekry waarvoor ons so lank geswoeg en gesweet het – ons is immers in Kanada. Ek het gedink ek is emosioneel voorbereid op wat vir ons wag, maar niks op hierdie aarde kon my voorberei op die impak wat COVID daarop sou hê nie. Ons immigrasie-status voel vir my soos daai Pinterest fails wat mens op die internet kry (klik gerus op die skakel as jy nie weet waarvan ek praat nie).

Ons is vandag presies drie maande in Kanada. Dit voel gelyktydig langer en korter. Ons provinsie, Manitoba, is sedert middel November in die strengste inperking wat Kanada nóg gehad het. Dit is baie soortgelyk aan die Vlak 5-inperking van Suid-Afrika, buiten dat wegneemetes, alkohol, sigarette en selfs cannabis nog verkoop word. Al die Kersversierings, onder andere, is as nie-noodsaaklike items verklaar en word saam met klere, speelgoed, breekware, boeke ens. toegespan. Jy mag, indien die winkel dit aanbied, hierdie items aanlyn bestel en dit op straat oplaai. Maar dit maak my nie minder neerslagtig om by ’n winkel in te stap nie. Wat seker die hele doel van die regulasies is.

Verder is sosiale interaksie tot die mense binne jou huishouding beperk. Enige buitemuurse aktiwiteite is gestaak, so ons mag ook nie parke besoek nie. Dit is bitter moeilik om mense te leer ken as almal mekaar vermy en laat my ekstra baie na my vriende en familie verlang. Op hierdie stadium lyk dit of die inperking tot ná Kersfees sal strek, wat beteken dat families en vriende nie saam sal kan feesvier nie. Mense is oor die algemeen uiters mismoedig en dit is waarskynlik die rede hoekom heelwat huise – binne en buite – sedert vroeg November reeds met indrukwekkende Kersversierings en liggievertonings getooi is. Enige iets om die gemoedere te lig.

Ek is wel bitter dankbaar dat die skole nog voortgaan, maar ek voel jammer vir die kinders wat al hierdie skielike en drastiese veranderinge moet verwerk. Dit is moeilik om al die regulasies aan hulle te verduidelik, veral vir iemand soos my oudste wat alles bevraagteken. Hy het my al meer as een keer laat wonder oor die logika agter al die reëls, maar daar gelaat. Ten minste het ek elke tweede dag net een van die karnallies in my persoonlike spasie en ek besef ook die arme goed is net so moeg vir my soos ek vir hulle.

Terug waar ek my eie emosies bevind, wonder ek oor die impak wat COVID – en eintlik meer die inperkings – op ons geestesgesondheid het.

As jy reeds ’n geskiedenis met iets soos depressie en angstigheid het (soos ek) is hierdie die perfekte mengelmoes van omstandighede om jou soos woedende golwe onderstebo te slaan. En selfs al het jy nog nooit van tevore daarmee gesukkel nie, kan jy jouself skielik in vreemde waters bevind. Ek wonder, buiten vir die statistieke oor COVID-pasiënte en sterftes wat aan die virus toegeskryf word, of daar ook ’n toename in selfdood is sedert die inperkings vir die eerste keer ingestel is. Ek wonder oor finansiële skade en armoede. Ek wonder oor huishoudelike geweld en kinders wat verwaarloos en afgeskeep word. Ek wonder wat die impak van hierdie omstandighede op my eie kinders se welstand gaan wees. Ek wonder of dit werklik die moeite werd is. Maar dit is sommer net gedagtes.

Daar is nog geen vordering met ons aansoek vir permanente verblyfreg nie en daar is ook geen manier om op te volg nie. Omdat ek net ’n besoekersvisum het mag ek nie hier werk nie en nie eens vrywilligheidswerk doen nie. Ek het intussen aansoek gedoen vir ’n werkspermit, maar ek is gewaarsku dat ek geduldig sal moet wag. My Suid-Afrikaanse bestuurderslisensie is ook van vandag af nie meer geldig in Kanada nie. Omdat ek nie betyds ’n afspraak kon kry om my Kanadese lisensietoets af te lê nie, mag ek wetlik nie meer hier bestuur nie. Nie dat ek regtig iewers het om heen te gaan nie... Ek kan wel noem dat ek hierdie week een aand winkels toe geloop het, ná donker, op my eie. Dit was lieflik! So ek is steeds dankbaar dat ek my vonnis in Kanada uitdien en nie in Suid-Afrika nie.

Wanneer ons gesels, gebruik ons dikwels die this too shall pass gesegde om mekaar te troos. Maar ek wil weet wanneer. Wanneer gaan dit nou verby gaan, want my senuwees is aan flarde en ek sukkel om kop bo water te hou. En ek wonder hoe ander mense dit reg kry om positief te bly en net vorentoe te beur. Dit is omstandighede waarvoor geen mens opgewasse is nie en ons mag dit erken. Maar ek sal ook vuur onder my bas moet maak om na my eie gesondheid te kyk, sodat ek beskikbaar is vir my man en my kinders wat net so swaar kry. Sodat ek nie net spartel nie maar immers kan swem. As ons dapper genoeg is om hierdie pandemie te oorleef, glo ek dat ons, “wonde” en al, ons lewens kan herbou soos wat generasies voor ons reeds gedoen het. Diep asem in. Een dag op ’n slag.

 


 

Comments

Popular posts from this blog

'n Gewone lewe

Perspektief

Wie nie waag nie, wen nie