Die wonder van ’n winter-Kersfees

Anna Peipina – Unsplash

Kersfees in die noordelike halfrond is régtig soos in die flieks. Dit is meer as net die sneeu en liggies – dit is ’n leefstyl. Selfs tydens ’n pandemie. Mense op straat groet jou met Kerswense. Een van die huise op my pad winkel toe (ek mag mos nie bestuur nie so ek stap in die aand) het ’n luidspreker in hul erf wat sagte Kersmusiek speel. Oral pronk liggies, kerskranse en kersbome van alle kleure, groottes en vorms. Stringe liggies versier dennebome op straat tot amper by die top en ek wonder hoe dit gedoen word. Daar is plaaslik ’n amptelike Lighting of the tree-seremonie, wat hierdie jaar aanlyn plaasgevind het. Families lewer Kerskaartjies met pragtige familiefoto’s op by die deur af. En dan is daar Kersvader, of Santa soos hy hier bekendstaan.

 

Santa se bederfies.

Ons seuntjies het hierdie jaar ’n persoonlike video van Santa af ontvang. Dit is ’n diens wat ons vriendin Stephanie voor betaal het – jy stuur basiese inligting oor jou kinders en dan neem hulle ’n video spesiaal op en stuur vir jou die skakel. Die seuns was in verwondering! Hulle het dit met aanloop tot Kersfees saans twee keer ná storietyd gekyk. Ons het vir die eerste keer melk (sjokolade Nesquik) en koekies vir Santa gelos en toe hulle wakker word op Kersdag was daar poeiervoetspore as bewys dat Santa dit genuttig het. Maar die belangrikste was dat hy vir hulle elkeen ’n geskenk onder die boom gelos het.

 

Kersfees in Altona, Manitoba.

Ons kersboompie op Oukersaand.

 

Ek was onseker hoe ek oor Kersfees gaan voel sonder ons familie naby. Omdat die hele provinsie ingeperk was kon selfs families wat almal in Altona woon nie eens saam Kersfees hou nie, so ons het nie so eensaam gevoel nie. Ons het besluit dat tuisgemaakte skaapkerrie en naanbrood voorts ons Oukers-tradisie sal wees en het dit met roomyshorinkies afgesluit. Die kinders het geskenke van die oupas en oumas in Suid-Afrika oopgemaak en tot laataand daarmee gespeel. Die grootste geskenk was drie verskillende soort sleë, wat ons vriende Sarah en Owen vir hulle gekoop het.

 

Ons kerrie en naan. Let op die gebrek aan plekmatjies en tafelversierings... #firstworldproblems

 

Kersdag het ons met mooi weer en ’n blou hemel bederf. My man het ’n gerookte ham en malvapoeding gemaak en ons het goeie geselsies met die familie in Suid-Afrika op Skype gehad. Ek het na ete gaan stap om vir Sarah haar pakkie af te lewer en so bietjie uit die huis te kom. Heelpad het ek die vars winterslug ingeasem en so bevoorreg gevoel dat ek Kersfees in hierdie wonderland mag vier. Op pad terug hoor ek musiek, en wonder of nog iemand ook ’n luidspreker in hulle erf het. Soos ek nader kom, besef ek egter dat dit Kerssangers (carolers) is! Ek gaan staan stil en luister na die harmonieë van Stille Nag in Engels en wens ek het die woorde geken. In my kop sing ek saam in Afrikaans. Ek raak skoon bewoë sonder dat ek eintlik weet hoekom. Ek maak ’n geestesnota dat ek, sodra ons weer ’n normale Kersfees kan vier, gaan uitvind hoe ek by só groepie betrokke kan raak.

 

Klokhelder Kersdag.

Buffalo Creek Natuurpark. Die heuwel verskaf pret vir sleeryers en die meer is vir skaats.

 

Altona beleef ’n besonderse matige winter hierdie jaar, wat selfs die plaaslike inwoners verstom. Ons het aanvanklik gewonder of ons wel ’n wit Kersfees gaan hê omdat al die sneeu op ’n kol gesmelt het, maar gelukkig was daar net betyds oorgenoeg om alles in ’n poskaartprentjie te verander. Daar was selfs genoeg sneeu om ’n glybaan van ons stoep af te bou sodat die kinders met hulle nuwe sleë daar kon afgly. Dit was nie lank nie, toe kom stel ons bure se kinders ondersoek in en vra of hulle mag saam gly.

Vir ’n oomblik het dit amper gevoel asof alles in die wêreld pluis was en dit was heerlik.

Ongelukkig is ons inperking gister met nog twee weke verleng en ons sien bitter uit na wanneer ons regtig die dorp kan ervaar. Want Altona het soveel om te bied, selfs in die kouer winter. Die paar mense met wie ons tot dusver te doen gehad het is aangenaam en hartlik en opreg. Net minder as vyf maande gelede het dit gevoel of Kanada ons nóóít gaan sien nie. Daarom is ek só dankbaar dat ons nou al vier maande in vrede hier kan woon dat selfs die inperking my nie onderkry nie. En terwyl ek op ’n hoë noot is, kan ek met groot verligting sê dat ek gister my Kanadese bestuurslisensie geslaag het en nou wettig ’n motor mag bestuur. Nou kan ek hierdie wit dorp – binne Covid-regulasies en my kinders se gemoedere – rooi verf.

 

Spookasemwolke – die son groet die dag.

 

Comments

Popular posts from this blog

'n Gewone lewe

Perspektief

Wie nie waag nie, wen nie