Verlange en vooruitsigte

Ross Findon – Unsplash

Ek dink dit is waarskynlik in die mens se natuur om vergelykings te tref. Dalk sonder dat ons dit eers besef. Kort na ons kwarantyn verby was en ons vir die eerste keer ons nuwe tuiste kon beleef, was ek bewus hoe anders alles is. Want kom ek sê nou vir jou – alles is anders. En aanvanklik voel jy terselfdertyd oorweldig en verwonderd oor al die nuwighede.

Ons woon nou vyf maande in Kanada. Al is ons steeds sedert November onder streng inperking, is ons al baie meer tuis as daardie eerste paar weke. Ons voel nie meer so oorweldig nie maar beleef steeds eerstes. Hoe gemakliker ek met alledaagse lewe in Kanada raak, hoe meer vergelykings is daar om tussen my geboorteland en die koue Noorde te tref. Mens is geneig om dan te peins oor wat jy verwelkom en waarna jy regtig verlang. Ek deel dus graag ’n paar dinge op my lysie.

Familie en vriende
Dit is wat ek die mééste mis. My mense. Ons is baie bevoorreg dat ons reeds ’n handjie vol vriende kon maak (en hulle is regte staatmakers) maar daar is nie plaasvervangers vir jou geliefdes nie. Ek het verlede week verjaar en waarskynlik daarom was my verlange die ergste nóg. Ongelukkig gaan ons afsonderlike lewens aan en daar is baie oomblikke waarop ons eenvoudig uit mis.

Ek is egter baie dankbaar vir tegnologie en hoe klein dit die wêreld kan maak wanneer dit nodig is.

Bankwese
Glo dit of nie, Suid-Afrika se bankwese is Kanada ver vooruit. Kanada gebruik nog tjeks, wat met die pos heen-en-weer gestuur word. Kan jy jou voorstel! Daar is verskeie instansies by wie jy ’n bankrekening kan besit maar ons dorp het net ATM’s vir dié wat plaaslik ’n tak het. My man se bank, byvoorbeeld, kan nie ons dorpsraad as ’n begunstigde laai nie en dus kan hy ook nie sy munisipale rekening betaal nie. Wel, hy kan, maar dit is dan ’n hele uitgerekte proses. Jy kan inkopies aanlyn slegs met jou kredietkaart en soms met Paypal betaal. Daar is baie meer redes hier om steeds na die tak toe te gaan, waar jy in SA aangemoedig word om eerder die toep te gebruik. Ten minste hoef jy nie in ’n lang tou te staan om gehelp te word nie ek moes selfs ’n afspraak maak om my rekening te open. ’n EFT hier vind ook onmiddellik plaas, ongeag by wie jy of jou begunstigde bank. Al wat jy nodig het om vir iemand geld te stuur, is hulle selnommer of e-posadres.

Beurtkrag
Uiteraard mis ek dit glad nie. Die mense hier kyk jou baie snaaks aan as jy hierdie konsep aan hulle probeer verduidelik. Hier is glad nie ’n tekort aan elektrisiteit nie en kragonderbrekings word hoofsaaklik aan weersomstandighede gekoppel.

Winter
Ons beleef hierdie week ons eerste werklike Manitoba-wintersweer. Snags word dit maklik kouer as -30°C and met windchill is die aanvoelbare temperatuur -40°C. Jy word gewaarsku om liefs binnenshuis te bly en hierdie week is die skool selfs gekanselleer omdat dit net te koud is. Enige blootgestelde vel kan binne minute vriesbrand kry. Ten spyte van die uiterste koue, is die huise so goed geïsoleer dat dit binne heerlik knus bly – selfs al skakel ons die hitte gedurende die dag af. Ons deure het wel al vasgevries. Ek moet erken dat die winter in Suid-Afrika my amper meer gepla het omdat ek altyd koud was. Hier klim ek warm in die bed, warm uit die stort en ons kan selfs kortmoue binne dra. Solank jy die regte klere dra wanneer jy buite is en dit nie geweldig koud is nie, gaan die Kanadese se lewens soos normaal voort en is daar heelwat winters-aktiwiteite om aan deel te neem. Daar is sekere logistieke aspekte wat die winter anders maak – soos om jou oprit skoon te skraap ná dit gesneeu het, of dat jy jou motor moet inprop wanneer die temperatuur onder ’n sekere punt daal. Jy raak doodeenvoudig net gewoond daaraan. Ons sal weer praat as ek my eerste sneeustorm beleef...

Jy is verantwoordelik vir jou eie oprit

Kos en handelsmerke
Ek smag na ’n Bovril-broodjie. Al vir weke. Die beste wat my man kon doen was ’n baie duur botteltjie Marmite. Hy is ’n gedugte bakker en het vir die eerste keer koeksisters (een van sy gunstelinge) gebak vir my verjaarsdag. Ons Kanadese vriende kon nie ophou smul nie! Ek mis ook ’n blikkie Lyle’s goue stroop en Sweet Chilli Fritos. Daar is ’n Suid-Afrikaanse winkel in Winnipeg, maar tussen COVID en die afstand was dit nog nie die moeite werd om dit te besoek nie. Baie van hierdie items is op Amazon beskikbaar maar teen ’n belaglike prys. Só baie mis ek dit nie. Ons het ’n resep op Facebook gekry om smullekker vissmeer te maak (dit smaak nés Peck’s). Verder maak ons kos nes in SA, ons moet net gewoond raak aan die handelsmerke wat hier beskikbaar is en die aangepaste afmetings.

Woolworths (en Dischem)
Ek verlang sommer net na die hele winkel en alles wat ek daar kon kry. Gedeeltelik omdat dit bekend is en gedeeltelik omdat ek net nie plaasvervangers vir sekere items kan kry nie. Ek sal nooit weer sê dat Woolies se slaai of vrugte duur was nie – hier is ek te bang om ’n slaaikop te koop en dit te laat sleg word. Ek kon ook ’n kledingstuk so op die hanger bekyk en weet of dit my sal pas.

Dokters en medisyne
Ek het my eerste doktersafspraak gehad en verlang sommer na ons huisdokter wat amper soos ’n vriendin gevoel het. Kanadese dokters, soos ek verstaan, is maar redelik koud en vra nie verder uit as die rede waarvoor jy hulle besoek nie. Jy kan ook nie ’n spesialis bel en ’n afspraak maak soos in SA nie, jy het ’n verwysing nodig. En selfs dan kan dit maande of jare neem voor jy ’n afspraak kan kry. Suid-Afrikaanse dokters is beslis in aanvraag weens hulle deeglike aanslag en goeie bedside manner. Ek kon wel by die kliniek uitstap sonder om ’n sent te betaal. Medisyne word egter glad nie deur die staat gedek nie en dus het jy addisionele mediese versekering nodig, wat my man gelukkig deur sy werk kry. Jy kan ook nie enige medikasie sonder ’n voorskrif oor die toonbank koop nie. So ek bêre ewe suinig die Illiadin en ACC vir noodgevalle.

Laurynas Mereckas – Unsplash
Staatsmedies het voordele en nadele.

Binnelandse sake
As jy nog nie Stef Bos se lied “Binnelandse Sake” geluister het nie, doen jouself ’n guns. Ek dink welke Suid-Afrikaner slaan in ’n koue sweet uit as jy besef jy moet ’n draai daar gaan maak en boonop ’n dag se verlof inruil, sonder enige versekering dat jy suksesvol daar gaan uitstap. Ek het onlangs my SIN-nommer gekry, of Social Insurance Number, wat basies die rol van ’n ID nommer vervul. Ek het Service Canada gebel en ’n afspraak gemaak vir die daaropvolgende week. Ek het 10:00 opgedaag en 10:15 was ek terug in die motor – ná ek vir Albert met sy pof baadjie en al in sy karstoeltjie vasgegespe het. Dit wil gedoen word. My bestuurslisensie was net so aangename ervaring (al was ek moontlik meer gespanne as in 2015 met my poging in SA) en my kaart het onlangs in die pos gekom. Lees gerus hier oor ’n Kanadees wat in SA woon se ervaring by die lisensiekantoor.

Diefwering, hekmotors en alarms
Ek dink nie ek hoef te verduidelik nie. Hier is nie eens ’n muur tussen my en my bure nie en ek moet die kinders mooi vertel dat hulle nie net die niet in kan vaar nie. Ons het al ’n paar keer vergeet om die voordeur te sluit en dit is nie ongewoon dat mense hul motors laat luier terwyl hul by die poskantoor inloer nie. Voor die eerste sneeu het die kinders oorkant gereeld hul fietse buite laat lê en soos ek al voorheen genoem het kan ek vingeralleen, selfs in die donker, winkel toe stap.

Ek is seker daar is nog baie vergelykings wat ek in die toekoms gaan tref, maar ek sien ook uit na al die eerstes wat nog op ons wag.

Ek vertel die afgelope naweek vir ’n vriendin oor ’n gesellige Zoom-geselsie dat my algehele lewenskwaliteit nou soveel beter is as wat dit in Suid-Afrika was. Al moet ek, eerlikwaar, myself af en toe daaraan herinner wanneer die verlange swaar rus, kan niks daarmee vergelyk nie.

Comments

Post a Comment

Popular posts from this blog

'n Gewone lewe

Wie nie waag nie, wen nie

Perspektief