Nuwe ontdekkings in ou kennis

Ek is nie lief daarvoor om sport op die televisie te kyk nie. Dikwels is die rede daarvoor dat ek nie die reëls verstaan nie (soos Tennis), maar hoofsaaklik is dit net eenvoudig vir my té vervelig. Ek het geen lojaliteit teen enige van ons provinsiale rugbyspanne nie en steur my nie aan wêreldranglyste nie. My man skerts dikwels dat ons huwelikskontrak stipuleer dat hy nooit mag golf speel nie. My gebrek aan belangstelling is egter beslis nie deur ’n gebrek aan blootstelling gekweek nie.

My pa was nog al tyd lief vir sport kyk. Eintlik enige sport, maar sy gunstelinge was Formule 1, rugby en krieket. Die gezoem van renmotors dien as ideale agtergrondgeraas vir ’n vinnige middagslapie op ’n Sondag. Ek het die middagslapie gevat, my pa was wakker vir die hele wedren. Ek het wel die voorlopers se name en die wysie van die Italiaanse en Duitse volksliedere uit my kop geken. Só ook al die spelers van ons ’95 rugbyspan wat die Wêreldbeker gewen het. Ek was nege jaar oud maar onthou die euforie van ons oorwinning soos gister.

As ek moet kies, sal ek eerder krieket kyk. Mens kan so elke nou en dan loer en steeds op hoogte bly. Ons het selfs ’n grappie in my ouerhuis gehad oor my broer wat van Sym Patcox gepraat het. My man het onlangs die fliek Hansie gekyk, en ek kon die emosie van dáái ’99 Wêreldbekereindstryd-toneel in my diepste wese herleef. Ons was geheel en al verslae! Dit is interessant hoe jy, ongeag jou patriotisme, opgesweep kan raak deur die emosies van spansport en die toeskouers rondom jou, al is dit op die rusbank. Vandag is ek glad nie seker wie in ons Nasionale Krieketspan speel nie. Ek weet darem dat Mark Boucher die nuwe afrigter is.

Met die 2010 Sokkerwêreldbeker in Suid-Afrika was ek soos die hele Mzansi trots op die geleentheid, maar ek het slegs enkele van die wedstryde gekyk. Ek het egter getrou my Bafana-Bafana t-hemp op Vrydae werk toe gedra en ’n Suid-Afrikaanse vlag in my kar gehang, soos meeste ander mense gedoen het. Ek kan wel met eerlikheid sê dat ek nie ’n vuvuzela besit het nie.

Die onlangse 2019 Rugbywêreldbeker het amper ongesiens by my verbygegaan. Letterlik. Ek dink ek het die laaste 15 minute van die eindstryd gekyk. Ek onthou hoe almal my gedurende die toernooi gevra het of ek hartseer was dat Suid-Afrika my span (dis nou Kanada) só ver gewen het, waarop ek geantwoord het dat Suid-Afrika eintlik my span is en dat Kanada nie juis bekend is vir hulle rugby nie. Regte draadsitter, ek.

Dit gesê, gaan sit ek die naweek van die 7de Maart by my man op die bank omdat ek niks beters het om te doen nie. Hy kyk Wêreld Sewes-rugby en dit trek my aandag, want hierdie toernooi is in Vancouver, Kanada. Ek gaan sit en kyk saam. En bly sit vir die hele toernooi. Maandag by die werk vertel ek vir my vriendinne van my nuutgevonde belangstelling in sewes-rugby en presies watter land in watter volgorde geëindig het. Almal staar my ongelowig aan. Dit is waarskynlik die vreemdste ding wat ek, volgens hulle, nóg kwytgeraak het.


Foto: Darryl Dyck/The Canadian Press

Ek het heelhartig gesprekke met die televisie gevoer en my man heeltemal te veel vrae gevra. Ek bewonder die tegnologie van superstadige kyk-weer-oomblikke. Ook die spelers se spoed as hulle reg deur die verdediging hardloop en ewe parmantig die bal liggies agter die pale tik. Ek het Suid-Afrika aangemoedig, want selfs ek kan sien hulle is goed. Ek was egter net so beïndruk dat Kanada ons hierdie keer wel kon klop om in die derde plek te eindig. Die formaat en vinnige pas is so opwindend! En boonop is dit een van die min toernooie wat ons in Kanada op die televisie sal kan kyk waarby ’n Suid-Afrikaanse sportspan betrokke is. Ons sal dit dalk eendag in Vancouver self kan kyk!

Tydens een van die wedstryde vra ek my man: “As ons nou eendag in Kanada is, sal jy steeds vir Suid-Afrika skree?” Hy het my aangekyk asof hy nie eintlik die vraag mooi verstaan nie en net gesê: “Natuurlik!” Jou geboorteland is deel van, jou murg en been, of jy nou daarvan hou of nie. Daar is baie dinge wat ons gaan mis as ons eers in die Groot Noorde is, daarvan is ek oortuig. Maar ek hoef nie my Suid-Afrikaanse identiteit geheel en al agter te laat nie. Ek moet bloot leer hoe om die Kanadese kultuur te omhels en ’n nuwe, saamgesmelte weergawe van Hesti te ontdek. Ek is seker dit sal net so opwindend soos ’n sewes-wedstryd wees.

Nou moet ek net leer hoe yshokkie en bofbal werk...

Comments

Popular posts from this blog

Perspektief

'n Gewone lewe

Dis heerlike lente