Gedagtes op papier
Ek het al baie die gesegde gehoor dat as jy doen waarvoor jy lief is, jy nie vir ’n dag van jou lewe sal werk nie. Daar steek beslis waarheid in hierdie stelling, dit is belangrik dat jy jou beroep geniet en passievol daaroor is, maar ek dink dit is steeds goed om jou werk en jou stokperdjies te skei. Ek het egter tot redelik onlangs die twee met mekaar verwar. Kom ek verduidelik.
Ek was nog altyd kreatief en goed met kuns. Van kleins af het ek daarvan gehou om te teken en daar was van vroeg af baie detail in my tekeninge. Op skool was een van my buitemuurse aktiwiteite deurentyd kunsklasse – daar was altyd nuwe om te leer en sonder dat ek dit noodwendig besef het was dit ’n ontvlugting van die werklikheid, iets wat ’n dagdromer goed pas. Omdat kuns my sterkpunt was het ander mense dit vanselfsprekend met my geassosieer en het ek self gereken dat ek dit vir ’n beroep sou kies. Van al die beroepsgesprekke wat ons aan die einde van ons Hoërskoolloopbaan gehad het was daar egter nie opsies wat my ‘vaardighede’ sou benut nie. Ek wou nie ’n bestaan uit skilderkuns maak nie, so ontwerp was die volgende logiese keuse.
Heel toevallig het ek te wete gekom van die kursus wat ek uiteindelik by Tukkies gaan swot het – Inligtingsontwerp. Dit was ’n uitdagende vier jaar, en skielik was ek ’n middelmatige student tussen mense met besonderse talent. Om een of ander rede het ek, gedurende al die vereiste sketse en projekte, my lus vir teken en verf verloor. Dit is nogal ironies, aangesien my skripsie se onderwerp ‘visuele ideevorming op paier’ (drawing as visual ideation) was. Dit het basies gehandel oor konsepvorming met sketse en hoe idees daaruit vorm, in plaas daarvan om direk op ’n rekenaar met ’n projek te begin. Nietemin, ek het my graad voltooi en begin werk as ’n grafiese ontwerper en eintlik baie vinnig besef dit is nie regtig wat ek vir ’n werk wil doen nie. Ek dink nie ek is ’n slegte ontwerper nie. Ek geniet dit immers om klein vryskutprojekte aan te pak, het ’n natuurlike aanvoeling vir probleemoplossing en dink dikwels by myselwers dat “as daai persoon net ’n ander font gekies het sou sy advertensie soveel beter gelyk het.” Maar ek is nie passievol oor ontwerp nie. Die ergste is dat een van my gunsteling stokperdjies sedertdien verlore geraak het en eers onlangs het ek besef dat dit soos ’n deel van my menswees is wat ek afskeep.
Sedert ek ophou werk het en terwyl ons wag om ons nuwe hoofstuk in Kanada te begin, spandeer ek baie tyd in my gedagtes oor wat vir my voorlê in ’n professionele hoedanigheid. Daar is beslis ’n aanvraag vir grafiese ontwerp in klein dorpies soos Altona, maar daar wink ander geleenthede ook. Toe ek baie klein was het ek dit vreeslik geniet om skool-skool te speel. Met maats of alleen. En as ek baie eerlik met myself is, weet ek eintlik dit is wat ek nog altyd moes doen – mense help om iets nuuts te leer. Die Strengthfinder-toets wat ek verlede jaar gedoen het, het dit bevestig. Daar is ’n paar opsies vir verdere studies, wat ek eers later sal kan aanpak. Die Universiteit van Manitoba bied byvoorbeeld ’n meestersgraad aan in Educational Administration, Foundations & Psychology. Maar daar is ook ’n behoefte by mense in die dorp om vaardighede te leer waaroor ek reeds beskik as ’n opgeleide ontwerper. Alhoewel ek aanvanklik nie dadelik sal werk nie, ter wille van ons gesin se aanpassing in die vreemde, is ek vir die eerste keer in ’n lang tyd opgewonde oor my beroepsmoontlikhede. Al is ek reeds in my 30s en ’n ma van twee seuntjies.
Wat my ook opgewonde maak is die besef dat ek weer moet begin teken. MOET. Om my menswees, te midde van al die onsekerhede en malligheid meer heel te maak. ’n Probleem wat ek nog my hele lewe lank het, is om te begin. Ek weet nie hoekom nie. Dalk is dit die perfeksionistiese deel van my persoonlikheid wat, in my gedagtes, teleurgesteld gaan wees as dit nie uitdraai soos ek beoog het nie. Ek besluit dit sommer vooraf en dan stel ek uit of los dit heeltemal. ’n Jarelange vriend het tydens inperking ’n Instagram-profiel vir sy sketse geskep. Hy het my vertel van ’n kursus op Domestika, wat ek dadelik gaan koop het – The Art of Sketching: Transform Your Doodles into Art. Die Sweedse illustreerder Mattias Adolfsson bied dit aan en aan die einde van elke les is daar opdragte wat jy moet voltooi. Ek het my penne gaan afstof en my leë Moleskin-sketsboek wat ek jare gelede gekoop het gaan uitgrawe. En ek het geteken. Aanvanklik het dit gevoel of ek nie ’n benul het van wat ek doen nie. Amper onnatuurlik. Maar, vir ’n verandering, was ek nie bang om ’n fout te maak nie. Ek vind dat dit die les is wat jy leer as jy direk met ink werk, sonder die veiligheid van potloodlyne. Vanoggend toe ek vroeg saam met my jongste opstaan en wonder wat ek gaan doen tot die dag aan die gang kom, was my eerste gedagte om met my volgende opdrag te teken. En dis presies wat ek gedoen het. Voor ek hierdie blog geskryf het...
Wat ek eintlik wil sê, is dat dit nooit te laat is om nuwe dinge te probeer nie. Jy kan 30 jaar oud word en eers jou passie vind. Of steeds daarna soek. Dis OK. Maar dit is veral nooit te laat om ou vaardighede, wat jou gratis genot verskaf, te herontdek nie.
Ek beplan alreeds aan al die penne, ink en papier wat ek in Kanada gaan koop as ek weer ’n begroting daarvoor het. Ek gaan ook seker maak dat ek vir myself ’n tekenhoekie in ons nuwe huis inrig. Intussen gaan ek, met dit wat ek het, oefen om my selfvertroue te herwin en net, sommer roekeloos, te skets.
*Ek het my eie Instragram-profiel geskep waar ek my sketse en ander gedagtes gaan deel.
Die eerste opdrag was om jou penne en potlode te teken. |
Daarna moes jy jou verbeelding gebruik om prettige penne te skep. |
Omskep alledaagse voorwerpe in karakters. |
Verskillende emosies met basiese lynwerk. |
Wel gedaan!
ReplyDeleteSo goed geskryf
ReplyDelete